Share This Post

Idees om woordeskat te bou

Idees om woordeskat te bou

Ek glo die meeste onderwysers sal met my saamstem dat woordeskat een van die grootste uitdagings in die Eerste Addisionele Taal klasse is, maar dat dit nie net beperk word tot tweede- en derde tale nie – ons huistaalleerders se woordeskat is ook beperk. Dit is ook ongelukkig een van die moeiliker probleme om aan te spreek, omdat dit nie net iets is wat gaan verbeter deur lyste woorde te leer nie. Leerders moet ongelukkig op hul eie ook aan woordeskat werk. Die vraag is egter hoe ‘n mens woordeskat kan verbeter? Hier is ‘n paar idees.

Lees

Dit is amper vanselfsprekend dat lees een van die beste maniere is om woordeskat te verbeter. Wat ‘n mens nie moet vergeet nie, is dat dit nie gaan help om bloot ‘n bladsy te lees en dan aan te gaan met jou lewe nie. Dit is belangrik dat leerders lees met begrip. Daag jou leerders uit om een boek te koop en dan 15 minute ‘n dag te lees met ‘n woordeboek langs hulle. Dit is uiters frustrerend aan die begin, want die reël is dat jy nie verder mag lees as jy nie die laaste sin heeltemal verstaan nie. Hulle moet woorde opsoek en neerskryf. Die begin is die moeilikste, maar die opwinding as hulle later besef dat hulle al ‘n bladsy kan lees in plaas van net 2 sinne, is een van daardie belonende oomblikke in die onderwys wat ons vir ewig onthou!

Blootstelling aan die taal

Dit is belangrik dat leerders soveel moontlik die taal hoor en gebruik. Kyk advertensies in die klas, luister musiek, lees hardop, vertel vir mekaar van die nuus, maak beurte om die dag se weerberig te doen of maak selfs tyd om ‘n film te kyk. Praat gereeld met hulle in die taal en probeer jou bes om nie vir gerieflikheidshalwe oor te slaan na die ander taal nie. Leerders moet konsentreer om jou te verstaan en as hulle gedwing word om te luister.

Speel woordspeletjies

Wanneer leerders dit geniet om iets te doen, leer hulle. Doen elke nou en dan ‘n blokkiesraaisel. Vra die leerders om een item van elke letter van die alfabet te soek en terug te bring klas toe. Gee vir hulle ‘n tema en speel woord-bingo daarmee. Jy kan ook die leerders opdeel in groepies, gee vir hulle ‘n paar minute en vra vir hulle om intensiewe vorme letterlik uit te beeld. Hulle kan dan byvoorbeeld ‘n stukkie gras pluk vir grasgroen of skree en hulle gesigte trek vir skreeulelik. Dit is ongelooflik hoe kreatief leerders is en jy gaan verbaas wees oor hoe baie hulle dit geniet en selfs nog meer oor hoeveel hulle leer.

Toeps

Gaan krap ‘n bietjie rond op die Play store of selfs op die internet. Woordeskat is ‘n universele probleem en daar is werklik baie oplossings daar buite, selfs vir Afrikaans. https://www.beterafrikaans.co.za/website/index.php het ‘n wonderlike toep wat elke dag ‘n taalvragie vra. Daar is natuurlik ‘n groter verskeidenheid toeps vir Engels soos https://www.vocabulary.com/app/ maar maak net seker dat die toep wat jy gebruik die regte Engelse reëls volg. Kyk na ons lys van Quizlet-aktiwiteite wat ook baie pret is.

Leer nuwe woorde

Vra jou leerders om een nuwe woord in die woordeboek te gaan soek en om dan vir die klas daardie woord te kom leer. Hulle moet weet wat dit beteken en dit in ‘n sin kan gebruik. Daag hulle dan ook uit om hulle nuwe woord elke dag in die klas te gebruik. Die voordeel van hierdie oefening is eindeloos. Die leerders onthou die woorde omdat hulle dit self gaan soek het, hulle onderrig mekaar en gebruik die nuwe woord gereeld wat dan ook vaslegging verseker. Moenie hierdie oefening te gereeld doen nie, een keer ‘n week behoort genoeg te wees. Jy kan selfs verder gaan deur hulle uit te daag om mekaar se woorde te gebruik.

Brei uit op die woorde wat hulle ken

Dit is belangrik dat leerders nie net die stamwoorde leer nie. Die meeste leerders ken darem ‘n paar kleure en diere en voorwerpe. Gebruik die kennis wat hulle het en brei daarop uit. Een idee is om vir hulle ‘n tema te gee en dat hulle self 10 woorde gaan soek waaraan hulle dink wanneer hulle die tema hoor. Byvoorbeeld as jy die tema “Vakansie” gee, kan hulle dalk dink aan see en swem en son. Nadat hulle die 10 woorde neergeskryf het, gee hulle ‘n geleentheid om vir al die selfstandige naamwoorde meervoude, verkleining, intensiewe vorme ensovoorts neer te skryf. Afhangende van die kennis wat hulle het, kan jy hulle ook vra om voorvoegsels en agtervoegsels aan die werkwoorde te sit of om net die verlede vorm neer te skryf.

Plakkate en prente op jou mure

Sit plakkate op met interessante woord of selfs oulike prentjies met idiome of grappies. Leerders soek altyd woorde om in hulle opstelle te gebruik en jou klaskamermure is presies waar hulle vir daardie woorde gaan soek. Nuwe toevoegings tot die muur word baie vinnig opgelet en dit is nie lank voor hulle jou begin vra wat die woorde daarop beteken nie.

Woordeskat is die belangrikste bousteen van ‘n taal. Gebruik die idees hierbo om dit uit te brei, maar wys ook vir jou leerders dat jy hulle harde werk waardeer deur self ook hulle nuwe woorde te gebruik – dit kan hulle net motiveer. Leerders geniet dit gewoonlik nie om op hulle eie te werk aan iets soos woordeskat nie; daarom is dit belangrik om dit vir hulle so genotvol as moontlik te maak. Jy kan ook deelneem aan die aktiwiteite, wie weet, dalk leer jy ook ‘n ding of twee?

Lees verder:

Nuwejaarsvoornemens vir onnies

Tablette in skole: Voordele en nadele

10 maniere om lees in jou skool te bevorder

Digitale etiket en waarom dit belangrik is om ons leerders hiervan te leer

10 idees vir jou klaskamer

Deel jou (GRATIS) hulpmiddels met ander onnies

Wenke vir jou volgende onderhoud

Jou skool benodig ‘n webtuiste: Kwikweb kan help

Video’s vir derdetaalleerders

200 + Wiskundevideo’s vir graad 4 – 7

10 koöperatiewe leerstrategieë (en apps wat handig is daarvoor)

Adverteer onderwysposte / vind jou droompos!

Quizpedia: Laat leerders hul eie vasvrae ontwerp!

6 Memes wat net onnies sal verstaan

Maklike DIY vir ingenieurtjies in jou klas – STE(A)M

Quizlet: Maak digitale flitskaarte!

Idees vir poësie-maand

5 Wenke vir beter klaskamerbestuur

Idees: Maak jou eie leeshulpmiddel!

Idees: Maak stil snoesies!

Inspirasie: Maak jy ‘n verskil?

Inspirasie: Hoe om ‘n gebroke skool heel te maak

Digitale Media in die Afrikaansklas

Afrikaanse hulpmiddels

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.